Dinsdag 02 Julie 2013

Die Gevare van die Internet Biblioteek

In die laaste dekade, het daar in die kuberruimte ‘n radikale toename van beskikbare bronmateriaal plaasgevind. Hierdie ontploffing van materiaal, wat baie goedkoop of heeltemal verniet aangebied word, is so oorweldigend dat die niksvermoedende en naïewe Christen, wat sonder onderskeiding daardeur soek, heel waarskynlik uitgevang sal word deur die vermenging van waarheid en valse leer. Sommige welmenende Christene sal nie die onmiddellike gevare raaksien nie en enige materiaal wat beskikbaar is gebruik as dit nie blatante leuens of onwaarhede verkondig nie.

So was ook my ervaring, toe ek in my soeke op Google na materiaal oor kerkgeskiedenis, afgekom het op ‘n blog-blad waarna ek gesoek het. Omdat die blad en materiaal aanvanklik onskuldig gelyk het, het ek sonder versuim begin lees. Na my gewete my egter herinner het aan vorige slegte ervarings, het ek begin om verder te kyk na die naam van die organisasie wat die blad publiseer op die web. Self hier het ek nie dadelik gevaarligte gewaar met ‘n “pop-up” venster wat sê: “Moenie hierdie webblad vertrou nie!” Dit het my gekos om na die bediening se naam en leerstellings te gaan kyk om werklik agter die kap van die byl te kom en te besef wie dit was dat hierdie artikel geskryf het.

So wat maak dit saak wie die artikel geskryf het? Wel, dink ‘n bietjie mooi! Sê nou maar die skrywers van die blog-blad is van die Ou Apostels of die Jehovas getuies of “The Church of Christ” en hulle wil iets skryf om hulle interpretasie van kerkgeskiedenis te bevorder. Ons moet eerstens besef dat hulle die webruimte gebruik om ander, wat die web gebruik, se siening van die Bybel of Christelike leer te beïnvloed. Hulle siening van kerkgeskiedenis en ander onderwerpe soos bv. die evangelie en eindtyd gebeure, word gevorm en ingelig deur hulle verkeerde interpretasie van die Bybel. Kom ons vat byvoorbeeld die webblad wat ek besoek het - The Lutz church of Christ is a non-denominational family of disciples endeavoring to live as New Testament Christians. Die naam en beskrywing klink mooi, maar uit my ondervinding het ek dadelik, uit die manier hoe hulle hulself beskryf, besef dat hierdie groep ‘n sektariese groep is. Hulle het ‘n subjektiewe siening van die Bybel, hulle preek ‘n ander evangelie van redding en dit sal ongetwyfeld hulle seining van kerkgeskiedenis beïnvloed. Maar uit hulle naam klink hulle soos normale dissipels van die Here Jesus, net soos ons. Om hulle siening egter te lees sonder om te weet dat dit uit ‘n sekere valse voorveronderstelling af kom, sal lei tot ‘n vermenging van die waarheid en valse leer in ons gedagtes. Hierdie vermenging kan lei tot ‘n diepliggende onsekerheid of die Bybel waar is en/of die evangelie werklik so belangrik is. ‘n Saadjie van twyfel, kan ‘n groot boom van onsekerheid en ongeloof word (...hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Jak. 1:6). Dit moet ons tog ten alle koste probeer vermy en nie hulle materiaal gebruik nie!

Daarom is daar ‘n hernieude oproep na Christene, soos die “edelmoediges” van Berea (Hand. 17:11), wat die inligting wat op die web en elders beskikbaar is, nie bloot vir soetkoek op te eet nie, maar dit meet aan die Woord van die God, wat ons enigste, onfeilbare maatstaf is, waaraan ons alles wat ons wil weet en leer moet meet (Judas 1:3). Al klink dit vir jou of dit, wat hulle van Jesus en van die Bybel sê, mooi en onskuldig is, maak liewer seker en vermy dit wat twyfel in jou hart kan saai.

Praktiese dinge om te onthou as jy die internet besoek:

·         Gaan eerstens na die Tuisblad of Home Page en lees met ‘n kritiese oog.
·         Soek na die blad waar hulle leerstelling is en lees met onderskeiding.
·         Besoek betroubare bronne, wat deur ander aanbeveel word.
·         Maak seker jy gebruik ‘n goeie verwysingsraamwerk.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking