Dinsdag 16 Desember 2014

Ontsteld of Vertrouend?

Dit vat nie baie om deesdae onrustig gestem te word oor wêreldgebeure en waarheen die wêreld op pad is nie.  Amper elke koerantberig, “blog” en televisieprogram wys daar is groot fout.  Almal sê dieselfde ding, dat alles met ʼn groot gejuig agteruitgaan.  Daarmee saam soek elke aktualiteitsprogram, op radio en televisie, raad van die kenners oor wat verkeerd is, die rede daarvoor en wat ons gaan doen om dit reg te stel.  Dag in en dag uit praat hulle oor dieselfde dinge, probeer die blaam te plaas en probeer die regte perspektief te kry.  Tussen “toi-toi” en teologie is daar min konsensus oor die oorsaak en oplossing van die probleem. Luister ons na die wetenskaplikes, is hulle smalend selfversekerd dat die volgende geslag, wat volgens hulle in die ontwikkelingsgang van evolusie is, die probleme sal uitsorteer omdat hulle geneties beter in staat sal wees daartoe. Niemand is egter presies seker wat fout is nie.  Natuurlik wil ons nie negatief of swartgsallig wees nie, want daar is genoeg hiervan in die nuus en in die gesprekke by die werk. 

Die Bybel sê ons probleme het in Genesis 3 begin.  Ons probleem en dié van die wêreld is met ander worode: SONDE!  Adam en Eva, die eerste man en vrou op aarde, het deur hul ongehoorsaamheid aan die Woord van God gesondig en omdat die res van die mensdom nasate van hulle twee is, is ons probleem dieselfde - persoonlike sonde op basis van ons ongehoorsaamheid aan die Woord van God. Ons sonde en die vernietigende gevolge daarvan, is die oorsaak van ons probleme en omdat ons groot oupagrootjie Adam en ons groot oumagrootjie Eva gesterf het as gevolg van sonde, gaan ons dieselfde pad stap.  Die Bybel, as die enigste ware geïnspireerde kommunikasie van God af, gee genadiglik ook die oplossing vir ons probleem met sonde - die evangeliebelofte van die Seun van God, die Here Jesus Christus wat gesterf het aan die kruis van Golgotas, maar weer opgestaan het. Soos ons moet sterf omdat Adam en Eva as straf vir hulle sonde gesterf het, so kan ons weer leef omdat Jesus leef.  Halleluja!

Daarom moet ons nie net vra “Waarheen gaan die wêreld?” nie, maar eerder “Waarheen gaan ek as Jesus weer kom?”  Die antwoord is Jesus. Dit was Hy wat sy dissipels bemoedig het met die woorde: "Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en vertrou ook volkome op My. In die huis van my Vader is daar sommer baie kamers (wonings)... Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. En as ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is." Het jy dié antwoord vir ander en is jy gereed om te gaan?