Vrydag 22 November 2013

Wees versigtig met die Woord van God

“Hy (Paulus) spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf. (2 Pet. 3:16) 
As daar een essensiële eienskap is van ons gemeente, dan is dit die feit dat ons die Woord van God sien as ons enigste ware inspirasie, konstitusie en outoriteit (Matt. 5:18; Joh.10:35; 14:26; 2 Tim. 3:15-17; 2 Pet. 1:19-21). In hierdie edelmoedige strewe (Hand. 17:11) is dit vir ons net so belangrik om nie die Bybel te verdraai of te misbruik net om ons te pas nie, want dit sou net so erg wees as om die Bybel te ignoreer of die outoriteit daarvan te ontken. Alhoewel daar, soos Petrus tereg opmerk, sekere dele van die Bybel is wat moeilik is om te verstaan, moet ons die Bybel toelaat om homself te verklaar. Die volgende gedagtes is ‘n vertaalde aanhaling wat baie goed beskryf wat op my hart is oor die euforie van uitsprake, profesieë en interpretasies in die kerk vandag:

“Baie welmenende en moedswillige mense verdraai die Skrif, met die doel om dit te laat inpas by hulle eie opinie, met die hoop om ‘n pseudo-Bybelse outoriteit te gee aan hulle idees en voorkeure. Inplaas daarvan om Jesus Christus as die Woord toe te laat om te sê wat Hy wil sê, voeg hulle ‘n interpretasie by en beskou dit as net so outoritêr as Jesus se woorde self. Hierdie “verdraaiing” van die Skrif het oor die eeue heen ‘n magdom van kultus en dwaalleringe laat ontstaan. Jesus se beskouing hieroor was soos volg: “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Matt. 15:9)     

Nog iets wat hiermee saamgaan en wat dalk nog heelwat erger is, is om te verklaar dat iemand ‘n “nuwe” woord van die Here ontvang het – wees gewaarsku: “Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie...” (Deut. 4:2) “Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ‘n leuenaar openbaar word nie” (Spr. 30:6). Of dalk dink iemand dat hy ‘n “nuwe” insig (met outoriteit) in die reeds bestaande Skrif ontvang het en wat met niemand anders saamstem nie: “geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet. 1:20).  

Die kultiese groepe verdraai en voeg by tot die reeds voltooide Skrifte, maar nog erger is die liberale teoloë wat die Skrifte probeer wegredeneer en ontken – nog ‘n sterker waarskuwing aan hulle: “En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.” (Openb. 22:19)  Hierdie verdraaiing of wanvoorstelling van die Skrif, is in wese die oortreding van Satan in Genesis 3:1-4  “Is dit ook so dat God gesê het... het God gesê... Julle sal gewis nie sterwe nie”. Geen wonder die Bybel waarsku ons so erg daarteen nie.” [Henry Morris, Misuse of the Bible. http://www.icr.org/article/7653/]
Hierdie aanhaling in blou is ‘n raakvat van die kwessie in ons dag en iets waarteen ons ten strengste moet waak. Ons het almal te doen met vriende en familie wat hierdeur geraak word. Soms wil ons self ook die Here se besturing laat inpas by ons begeertes en omstandighede. Ander weer, terwyl hulle aanvanklik beïndruk word deur die ekstatiese van buite Bybelse profesieë en sogenaamde werkinge van die Gees, wat as die waaragtige Woord en werking van God beskou word, raak ontnugter. As dinge dan nie uitwerk net soos die sogenaamde profetiese woord verklaar het of die subjektiewe besturing daarop gedui het nie, raak hulle of ons so erg teleurgestel, dat dit moontlik is om weg te val van Christenskap af en groot skade aanrig vir die getuienis van Jesus Christus. Waar kom hierdie hartseer vandaan, van mense wat sê: “So sê die Here...”, terwyl die Here dit nooit gesê het nie! Kom ons bly by die Skrif al moet ons dalk erken dat dit ons idee was of dat ons dalk nie weet wat die antwoord is of verstaan wat die Here bedoel nie – Petrus het dit immers openlik erken!