Saterdag 07 Junie 2014

Waarom ons nie Pinkster vier soos ander kerke nie?

Die antwoord op hierdie vraag het te doen met ‘n paar kenmerke wat ons gemeente onderskei van ander.

Kerklike Tradisie. Van die ontstaan van die onafhanklike,  evangeliese Bybelkerke (soos ons kerk), was hierdie kerke minder gesteld op die tradisies en gebruike van die denominasie of liturgiese kerke en wou meer (letterlik) Bybels wees. Dit beteken dat tensy die Bybel dit letterlik en uitdruklik vereis, hulle nie verplig gevoel het om enige van die oorgelewerde “tradisies” of gebruike van die groter denominasies te volg nie. Hierdie onafhanklikheid wat tradisies, gebruike en liturgie aanbetref, was die hart van die protestante beweging waar onafhanklike Bybelse kerke totaal wou wegbreek van enige deelname aan of assosiasie met die formasies of tradisies van die Rooms-Katolieke kerk. 

Baptiste Kenmerke. Een van die kenmerke van die onafhanklike Baptiste kerke is dat ons glo in die outonomie (selfbestuur) van die plaaslike gemeente. Die gemeente staan verantwoordelik teenoor die Here en mekaar om die Bybel letterlik te preek en gehoorsaam te wees en is onder geen verpligting om enige iets te doen wat “ander” kerke doen nie. Dit beteken nie dat ons hoegenaamd niks te doen wil hê met kerklike feesdae nie, maar ons beskou dit as nie-verpligtend tensy lede van die gemeente ‘n behoefte het daarna. Kersdag het ons byvoorbeeld besluit om eerder te fokus op die vleeswording van Jesus Christus en Paasfees weer gebruik ons vir Nagmaal en die evangelie van Jesus se kruisdood. Ons gebruik sekere feesdae as 'n geleentheid vir die verkondiging van die evangelie. 

Om Letterlik Bybels te wees. Ons erken ten volle dat die Heilige Gees letterlik in Handelinge 2 uitgestort is en dat die kerk met hierdie gebeurtenis begin het, net soos die Here Jesus dit bepaal het (Matt. 16:18). Daarmee saam erken en leer ons ook dat die Bybel ons in die besonder leer oor die waarde en betekenis van die gebeure rondom Pinkster – eerstens as ‘n Ou-Testamentiese feestyd (1 Kron. 23:28-31) wat slegs ‘n skaduwee was van die Nuwe Testament werklikheid (Kol. 2:16-17) en wat reeds in Christus vervul is met die uitstorting van die Heilige Gees en die koms van die Nuwe Verbond genadetydperk.

Omdat hierdie feeste in Christus Jesus vervul is, vind ons geen spesifieke opdrag van Jesus of die apostels dat ons as gemeente of individue enige feesdae of tradisies sal vier of herdenk nie, want ons gedenk Christus. Ons vind meer tekste wat ons waarsku om nie gebruike en feesdae te misbruik (Gal 4:10) en so te vergeet waaroor dit eintlik gaan nie (Kol. 2:16). Om die waarheid te sê, is daar slegs twee kerklike instellings wat die Bybel ons letterlik en uitdruklik opdrag gee om te herdenk en dit is die doop van gelowiges (Matt. 28:19 “Gaan dan heen en, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees) en die Nagmaal (1 Kor. 11:23-27, “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het...). 


Ons gemeente, wat letterlik Bybels wil wees, is nie in die geheel gekant teen die “kerklike feesdae”, of wil ander oordeel wat dit wel waarneem nie (Rom. 14:3-6), maar neem dit nie formeel waar nie, omdat ons nie enige tradisie wil vestig wat die aandag van Christus sal aftrek nie. Ons gebruik wel hierdie dae en tye as geleenthede om die aandag op Jesus Christus te plaas en die evangelie van Sy reddingswerk te verkondig en so mense te leer van die wonder van die Nuwe Verbond.