“Hy (Paulus)
spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat
die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul
eie verderf. (2 Pet. 3:16)
As daar een
essensiële eienskap is van ons gemeente, dan is dit die feit dat ons die Woord
van God sien as ons enigste ware inspirasie, konstitusie en outoriteit (Matt.
5:18; Joh.10:35; 14:26; 2 Tim. 3:15-17; 2 Pet. 1:19-21). In hierdie edelmoedige
strewe (Hand. 17:11) is dit vir ons net so belangrik om nie die Bybel te
verdraai of te misbruik net om ons te pas nie, want dit sou net so erg wees as
om die Bybel te ignoreer of die outoriteit daarvan te ontken. Alhoewel daar,
soos Petrus tereg opmerk, sekere dele van die Bybel is wat moeilik is om te
verstaan, moet ons die Bybel toelaat om homself te verklaar. Die volgende
gedagtes is ‘n vertaalde aanhaling wat baie goed beskryf wat op my hart is oor
die euforie van uitsprake, profesieë en interpretasies in die kerk
vandag:
“Baie welmenende en moedswillige mense verdraai die
Skrif, met die doel om dit te laat inpas by hulle eie opinie, met die hoop om ‘n
pseudo-Bybelse outoriteit te gee aan hulle idees en voorkeure. Inplaas daarvan
om Jesus Christus as die Woord toe te laat om te sê wat Hy wil sê, voeg hulle ‘n
interpretasie by en beskou dit as net so outoritêr as Jesus se woorde self.
Hierdie “verdraaiing” van die Skrif het oor die eeue heen ‘n magdom van kultus
en dwaalleringe laat ontstaan. Jesus se beskouing hieroor was soos volg: “Maar tevergeefs vereer hulle My deur
leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Matt. 15:9)
Nog iets wat hiermee saamgaan en wat dalk nog heelwat
erger is, is om te verklaar dat iemand ‘n “nuwe” woord van die Here ontvang het
– wees gewaarsku: “Julle mag by die woord
wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat
nie...” (Deut. 4:2) “Voeg by sy
woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ‘n leuenaar
openbaar word nie” (Spr. 30:6). Of dalk dink iemand dat hy ‘n “nuwe” insig
(met outoriteit) in die reeds bestaande Skrif ontvang het en wat met niemand
anders saamstem nie: “geen profesie van
die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet. 1:20).
Die kultiese groepe verdraai en voeg by tot die reeds voltooide
Skrifte, maar nog erger is die liberale teoloë wat die Skrifte probeer
wegredeneer en ontken – nog ‘n sterker waarskuwing aan hulle: “En as iemand iets van die woorde van die
boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van
die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek
geskrywe is.” (Openb. 22:19) Hierdie
verdraaiing of wanvoorstelling van die Skrif, is in wese die oortreding van
Satan in Genesis 3:1-4 “Is dit ook so dat God gesê het... het God
gesê... Julle sal gewis nie sterwe nie”. Geen wonder die Bybel waarsku ons
so erg daarteen nie.” [Henry Morris, Misuse of the Bible.
http://www.icr.org/article/7653/]
Hierdie aanhaling in blou is ‘n raakvat van die kwessie
in ons dag en iets waarteen ons ten strengste moet waak. Ons het almal te doen
met vriende en familie wat hierdeur geraak word. Soms wil ons self ook die Here
se besturing laat inpas by ons begeertes en omstandighede. Ander weer, terwyl
hulle aanvanklik beïndruk word deur die ekstatiese van buite Bybelse profesieë
en sogenaamde werkinge van die Gees, wat as die waaragtige Woord en werking van
God beskou word, raak ontnugter. As dinge dan nie uitwerk net soos die
sogenaamde profetiese woord verklaar het of die subjektiewe besturing daarop
gedui het nie, raak hulle of ons so erg teleurgestel, dat dit moontlik is om weg
te val van Christenskap af en groot skade aanrig vir die getuienis van Jesus
Christus. Waar kom hierdie hartseer vandaan, van mense wat sê: “So sê die
Here...”, terwyl die Here dit nooit gesê het nie! Kom ons bly by die Skrif al
moet ons dalk erken dat dit ons idee was of dat ons dalk nie weet wat die
antwoord is of verstaan wat die Here bedoel nie – Petrus het dit immers openlik
erken!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking