Vrydag 24 April 2015

Ken jou gemeenskap!

Om ons gemeenskap met die evangelie en waarheid van die Woord te kan bereik, moet ons die samestelling daarvan beter verstaan. Ons weet eerstens dat die gemeenskap waarin ons kerk geleë is, uit 'n groeiende middelklas bestaan wat beide Afrikaans en Engelssprekend is. Diegene wat Afrikaans as huistaal gebruik, gebruik Engels as werkstaal en in baie gevalle verkies hulle Engels ook as aanbiddingstaal. Daarmee saam is daar ook ‘n groeiende groep studente of werkende jongmense wat geen aspirasies het om hulle ouers se geestelike tradisie na te volg nie, en dus wegbeweeg van tradisionele vorms van godsdiens. Daar is ook 'n groep jong volwassenes wat in hulle tersiêre kwalifikasies 'n tipe paspoort na 'n lewe oorsee sien. 

Die gemiddelde geloofsgemeenskap in Suid-Afrika bestaan hoofsaaklik uit een deel wat nog in die tradisionele gereformeerde susterkerke is, maar aktief probeer uitvind of daar 'n alternatief is. Daar is ook ‘n ander meer radikale deel wat die tradisionele kerke verlaat het en die charismatiese of ontluikende kerke gekies het, omdat daar geen ander opsie bleik te wees nie (die nuwe hervorming, kruiskerk, internet kerke is redelik gewild). Nog ‘n deel wil hulleself laat doop en hulleself in huiskerke of groterige gebedsgroepe  saamvoeg. Natuurlik is daar ook die deel wat glad nie kerk toe gaan nie, en deur die nuwerwetse bedienings geleer word dat daar, ten spyte van die Bybel se leer daaroor, nie waarde in kerkgaan is nie. 

Die invloed van Afrikaner Nasionalisme en die tradisie wat dit in mense se beskouing van kerk gevestig het, veroorsaak dat daar min mense op plattelandse dorpe is wat sommer oortuig sal word om hulle kerke wat nie die Woord volg nie te verlaat. Dit is baie moeilik vir mense wat in bv. die NG kerk grootgeword het om te besluit om 'n kleiner, onafhanklike kerk by te woon. Daar is histories gesproke 'n geweldige teenstand teen die sogenaamde 'sektariese' kleiner kerke in die plattelandse dorpe of voorstedelike gebiede. Kyk vir nuwe intrekkers.

Wat positief is, is dat daar wel 'n groot hoeveelheid gelowiges in hierdie geloofsgemeenskappe is wat steeds die suiwer uitleg van die Skrif wil navolg. Hulle wil steeds sien dat mense tot bekering kom, hulle wil bly by die waarheid van die woord en hulle kinders so grootmaak in hulle eie moedertaal. 

Het ons die potensiaal om hulle te bereik? Nie net het ons die potensiaal nie, maar die opdrag van Jesus self! Daar is konsensus dat die volgende inisiatiewe wel effektief kan wees om mense te bereik: 1.) daar is gelowiges wat iets anders soek as die tradisionele kerk op Sondag – sinvolle vriendskappe; 2.) lewende kleingroep aktiwiteite kan mense bereik en bedien met die Woord; 3.) 'n bediening wat fokus op all fasette van die Woord (publikasies): skeppingsleer, dinamiese dagstuk Bybelstudies (woorde v lewe), Eindtyd profetiese bedienings, Bybelse prediking, Bybelse berading; 4.) spesiale sprekers by tematiese reekse is redelik populêr; 5.) 'n fokus op die kulturele waardes van die Afrikaanse familie en 6.) ‘n fokus op evangelisasie.