Vrydag 13 Februarie 2015

Kan ons onself verontskuldig voor God?

Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;  (Rom 1:20)

Die Bybel leer dat alle tipes mense in ‘n hofsaal-drama voor die “regbank” van God gestel is en a.g.v. sonde sonder verontskuldiging is. 

Die eerste beskuldigde is mnr. Heiden (Rom.1:18-32) wat ‘n wêreld verteenwoordig wat protesteer teen die aanklag en dink dat dit onregverdig van God is om die heiden te oordeel siende dat hulle bloot slagoffers van hulle omstandighede is (1:20). In onkunde voel hulle verontskuldig voor die Regter, maar die “bewyse” is duidelik: (1) Mnr. Heiden se lewe het begin met ‘n blootstelling aan die Waarheid (1:18,20), (2) die Waarheid is in hom geopenbaar (1:19), maar (3) hy het gerebelleer teen God deur trotsheid te kies eerder as onderdanigheid (1:21). (4) Mnr. Heiden kies eie opinie eerder as geloof in God se gepenbaarde wil (1:21-22) en (4) inkrimineer homself deur die waarheid te verruil vir die leuen (1:23).  

Die tweede beskuldigde is mnr. Moralis (Rom. 2:1-16). Hy neem selfversekerd sy plek in die beskuldigde bank in. Mnr. Moralis verteenwoordig al die mense wat dink dat hulle goeie werke hulle voor God verontskuldig. Hy sien homself in ‘n “beter” klas as mnr. Heiden. Sy filosofiese benadering en hoër tipe moraliteit in die onderhouding van sosiale wet en orde, voel hy, sal die Regter oortuig dat hy nie skuldig is nie. Mnr. Moralis is oortuig dat hy homself kan red (2:6-11)! Tog is ook hy “sonder verontskuldiging”, omdat hy die waarheid van God se Woord as die Hof se Standaard geïgnoreer en oorgesien het in sy siening van homself (2:1-5). In dit waarin hy mnr. Heiden oordeel, veroordeel hy homself en God se voordelende uitspraak van skuldig is dus geldig ook oor hom (2:1-2).

Die laaste beskuldigde is mnr. Godsdienstig (Rom. 2:17-3:8). Met vroomheid plaas hy sy hand op die Bybel en lê die eed af om die volle waarheid te spreek . In hierdie toegewyde godsdienstige man se argumente probeer hy bewys dat hy, as gevolg van sy opvoeding en familie agtergrond, hoër geestelike status beklee het (2:17-21). Sake van geboortereg, kerklike tradisie en seremonie is waarin hy geregverdig voel. Wat hy glo die waarheid is ondersteun sy saak dat hy onskuldig is op die aanklag (2:21-29). Mnr. Godsdienstig beroem hom op die daaglikse onderhouding van die tien gebooie, maar sy argumente is leeg omdat dit op eie geregtigheid gegrond is en uiteindelik moet ook hy erken dat “almal onder die sonde is” en daar is “niemand regverdig nie” (3:1-8).


Die Regter se uitspraak teen die beskuldigdes is verdoemend (Rom.3:9-20). Daar is hoegenaamd geen “verontskuldiging” nie en die waarskuwing is om te bekeer deur geloof in die evangelie van Jesus Christus, sodat hulle die ewige oordeel van die tweede dood kan ontvlug (Joh.3:16,36). Tog bly hulle onberoulik. As “God hulle oorgegee” het, om hul eie begeertes na te volg, is dit ‘n oordeel in eie reg (1:23,24,26), omdat die gevolge van ‘n onbetaamlike lewe ‘n “hool van sonde” is (1:28-31). 

Die oordeel van God is gebaseer op Sy eie natuur en karakter en nie op die mense se goeie dade of status nie, want daar “is geen aanneming van die persoon by God nie” (2:11-16). Die uiteinde van ‘n ongelowige leefstyl is die “ewige dood”, in die poel van vuur (Openb. 20:10-15). Die mens kan nie homself of ander skuldig of onskuldig verklaar nie. Ons moet ook nie ander mense veroordeel nie (Rom.14:9-13), want dit is die werk van God alleen.

Terwyl ons almal sonder verontskuldiging voor God staan met die aanklag van skuldig teen ons, is dit net die bloed van die Here Jesus Christus wat ons skuld kan betaal en ons kan vryspreek om as verlostes deel van God se plan vir heiligmaking te word. 

Staan jy sonder verontskuldiging voor God of het jy al Jesus se betaling vir jou sonde deur geloof aanvaar?