Sondag 16 Maart 2014

'n Volledige Bediening

Baie mense vandag vra die vraag of die kerk nie iets mis in hulle dienste nie. Daamee bedoel hulle dat kerke wat 'n konserwatiewe benadering volg nie dalk sekere van die werkinge van die Heilige Gees mis of uitlaat nie. In Handelinge 2:42 (nv) word aan ons 'n kykie gee in hoe die eerste gemeente, wat sopas die inwoning van die Heilige Gees ontvang het, dit gedoen het:

“Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.”

Heelhartige toewyding aan die byeenkomste van die gemeente was die gesindheid van die eerste wedergebore volwassenes. Hoe moet 'n bediening dan daaruit sien?

Ons bediening is ‘n lerende bediening. Die kruks van ons bediening is dienste waar boodskappe gebring word, lering gegee word, Bybelstudie gehou word en berading gedoen word – in elke geval is slegs die Woord die fokus en nie mense se opinie of tradisie nie. Paulus volg dit op as hy in 1 Tim. 4:16 sê: “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.” Kennis van die “heilige Skrifte” is die enigste middel wat ons “wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” (2 Tim. 3:15) Christene het van die eerste dag af van waarheid na ervaring beweeg en nie van ervaring na waarheid nie.

Ons bediening is ‘n liefdesbediening. Onderlinge samehorigheid, liefde en ‘n gretigheid om saam te kom is die hartklop van ons gemeente. Die NLV sê: “Hulle het hulle volledig toegewy… aan die versorging van mekaar…” Omdat ons aan mekaar verbind is, skep ons geleenthede soos ons Groei Groepe en spesiale vroue en manne byeenkomste om na mekaar uit te reik en mekaar aan te spoor. Van die eerste dag af was die samekomste van die gemeente nie opsioneel nie, maar essensieel 'n deel van alles wat gebeur. Vandag is byeenkomste opsioneel, wanneer ons al ons ander verpligtinge nagekom het, dan kan ons dalk 'n tydjie vind vir kerk. 

Ons bediening is gemeenskaplik en gebedsgerig. Ons is ‘n liggaam wat saamwerk en saam bid. Ons is geduldig met mekaar, en veral met diegene wat agterbly a.g.v. besige lewens, private sonde, lusteloosheid (apatie) of afvalligheid. Ons aksiegroepe bied die geleentheid vir toerusting, spanwerk en om te leer van ander. Van die eerste dag af was die kerk ernstig gesteld op die  toestand van die liggaam. Wat dink jy sal van jou liggaam word as jy net nou en dan (twee of drie maal per maand) daaraan aandag gee. Tog is dit vir baie Christene normaal om aan die liggaam van Christus twee of selfs 3 ure per maand aandag te gee.

Is jy heelhartig toegewy aan die bediening van jou gemeente?