Dinsdag 02 Julie 2013

Die “Twilight Saga” - Waarom dit skadelik is vir enige Christen?

In die laaste week het ek ‘n diep gesprek met my dogter gehad oor die nuwe “Twilight” film. Dit het my gemotiveer om ‘n bietjie navorsing te doen om julle te help om ‘n Bybelse perspektief daaroor te hê. Dit is interessant om te weet dat Christelike bedienings soos “Campus Life”, “Focus on the Family” en “Christianity Today”, baie positiewe resensies gegee het oor hierdie baie populêre, maar hoogs omstrede “Twilight” boeke en film reeks. Hulle is so positief dat hulle self voorstel dat dit in Bybelstudies en ander besprekingsgroepe gebruik kan word. Dit is duidelik dat selfs die kerk behep geraak het met hierdie saga.

Ek wil julle aan ‘n paar dinge herinner wat hierdie tipe vorm van vermaak aanbetref.

1.)     Flieks is vandag ‘n baie populêre vorm van invloed op enige kultuur. Regoor die wêreld gebruik die film industrie flieks om mense op ‘n groot skaal te beïnvloed om anders te dink oor sekere dinge in die lewe. Die filmstudente van ‘n sekere universiteit sal ‘n fliek gebruik om mense se siening oor bv. oorlog, politiek die domineering van een kultuur oor ‘n ander te ontbloot en mense se opinie daaroor in te lig of heeltemal te verander. Alhoewel baie mense ‘n fliek gebruik as ontvlugting en ‘n vorm van ontspanning en vermaak, is ‘n fliek tegnies gesproke soos ‘n klaskamer. Die skerm is die juffrou, die film is die onderwerp en inhoud en jy is die leerling. Elke keer word jy iets geleer of met iets gelaat om oor te dink.  

2.)    Baie van die flieks wat ons vandag sien, sal probeer om ‘n onderwerp wat voorheen (toe jou ma en pa kinders was) taboe was, nou aanvaarbaar te laat lyk. Toe jou ma en pa groot geword het, sou niemand droom om ‘n fliek te kyk oor ‘n seun wat in ‘n skool vir helse leer om te toor nie. Tog is Harry Potter, ‘n “cute” seuntjie wat toor, vandag uiters gewild en populêr. Wat het dan verander van dan tot nou? Ek dink ma en pa wil nie meer NEE sê vir jou soos hulle ma en pa NEE gesê het vir hulle nie! Dink ‘n bietjie hieraan. Die storie van vampiere is ‘n miete waar hierdie wesens wat as half-dier half-mens uitgebeeld word, hulle onsterflikheid behou deur ander se bloed te drink. Hulle mag nie aan lig bloot gestel word nie en kom net in die nag uit hulle skuiling. Die offers en ritualisme wat deur hierdie afgodsdiens voorgestel word, is dieselfde as die ritualisme van duiwelsaanbidding. Jy mag dalk sê, “Dis Cool!”, maar vir die meeste mense, as hulle mooi daaroor nadink, is dit ‘n abnormale tipe storielyn.  

3.)    Dit is juis die punt, want in die naam van kuns en vryheid van spraak, is enige iets toelaatbaar vandag. Mense kan boeke skryf, skilderye skilder en liedjies komponeer en enige iets wat hulle wil daardeur kommunikeer. Maak nie regtig saak of dit onvanpas en skadelik is vir ons emosionele welstand nie. Wat sal jou vriende sê as jy more vir jou vriende vertel dat jy gedroom het van vampiere en bloedsuigende monsters en dat jy boonop dink dit is iets wat nie teenstrydig is met die Bybel nie. Hulle sal dink jy is ‘n bietjie mal. Wel, Stephenie Meyer, die outeur van die boek en die fliek reeks, het die hele storie wat as “Twilight” bekend staan in ‘n droom gekry. Sy het toe begin om hierdie storie te skryf. Sy het selfs ‘n besoek gehad van die vampier karakter, Edward, wat hoorbaar met haar gepraat het. Sy het ook ‘n boek geskryf, “The Host”, wat handel oor demoniese besetting. In die naam van kuns word hierdie storie oor vorms van okkultisme (duiwelsaanbidding) te ver gevat. Dit is nie God se wil vir ons om met hierdie tipe vermaak om te gaan nie.
4.)    Baie mense sê natuurlik, “Dit is net ‘n fliek!” En die goeie word boonop in die vampier held, Edward, uitgebring. Is dit dan so verkeerd? Dit is nog ‘n ding wat vandag plaasvind. Daar is ‘n vermenging van die goeie en die slegte. Iets wat sleg is word goed gemaak deur mense wat nie krities dink nie. Edward, wat ‘n vampier is en deel uitmaak van ‘n hele groep vampiere, moet mense se bloed drink om aan die lewe te bly (dis wat vampiere veronderstel is om te doen, al is dit net fiksie). Hy raak egter verlief op Bella en besluit om nie haar lewe te neem deur haar bloed te drink nie. Dit is nou vir mense (en natuurlik vir jongmense) baie “cool”, want dit is mos die liefde wat die ou goed maak. Almal kyk vas in die sogenaamde goeie of tema van liefde, maar vergeet dat die Bybel eerstens nooit praat van vampiere nie, en tweedens word die inname van bloed ten sterkste verbied (Deut. 12:23; Hand. 15:20, ens.) Edward Cullen, die hoof karakter, is bekend vir ‘n paar interessante sêgoed op die Twilight webtuiste: "'I've decided that as long as I was going to Hell, I might as well do it thoroughly'”

 5.)    Wat het die Bybel hieroor te sê het?

o   2Timotheus 4:3-4 sê “daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” Mense sal in die laaste dae hulle wegdraai van gesonde (Bybelse) leer en hulle wend na “fabels”, sagas of mietes. Hulle sal dit doen omdat hulle begeer om iets anders as die waarheid (Bybel) te volg. Hulle is verveeld met die Bybel en met Christelike waarheid. Hulle wil nie anders wees nie, maar normaal.

o   Daar is ‘n sterk waarskuwing in Ef. 5:11-12 wat sê:  “en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.  Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig.” Christene moet ‘n onderskeid tref tussen die dinge wat in die lig hoort, wat met ander woorde met Jesus Christus geassosieer kan word, en die dinge wat met Satan geassosieer word. Nadat hulle hierdie onderskeid getref het, moet hulle dit bestraf, of wegdoen daarmee. Christene kan nie die dinge van die duisternis en die lig meng en maak asof dit niks beteken nie. So ‘n Christen sal deur sy eie gewete aangekla word. 

o   Hand. 15:19-20  “Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie,  maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.” ‘n Christen word, beide in die Ou en Nuwe Testament, nie toegelaat om met die dinge van afgode of okkulte besoedel te raak nie. Dit sluit it in die inname van bloed. Die paganistiese rituele het te doen gehad met die inname van bloed en dit is waarvan die Christene hulleself bekeer het. As die hantering van bloed te doen het met afgodery moet ons as Christene dan sit en kyk of lees van hierdie tipe goed, al word dit hoe romanties of sedelik uitgebeeld?

o   1 Kor. 10:20-21  “Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.  Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.” Hoe kan iemand wat byvoorbeeld op ‘n Saterdag aan die ritualisme van die vampiere godsdiens deelneem en onsedelik met ‘n jong dame verkeer, net die volgende dag deelneem aan die Nagmaal tafel van die Here Jesus Christus. Dit is nie net ongehoord en abnormaal nie, maar totaal teen die wil van God vir die gemeente van Christus.

o   Tit. 3:4-7  “Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het—  nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees  wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser;  sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.” Daar is net een manier hoe ons gered kan word en die ewige lewe kan beërwe. Hierdie die meisie in die karakter wat haarself oorgegee het aan die vampiere leefwyse, het nie die ewige lewe in die lig van Jesus Christus en Sy Woord gekies nie, maar die lewe in die duisternis. Alhoewel dit net ‘n fliek is, is die implikasies daarvan totaal vervreemd met die waarheid van die evangelie en moet dit sonder meer verwerp word.

 Opsomming
Die Twilight flieks is skadelik vir enige Christen om te kyk, want dit behels materiaal en gebruike wat in die Woord van God verbied word. As jy daarmee te doen gehad het, maak ‘n afspraak met jou leraar en bespreek hierdie artikel met hom en vra hom om saam met jou te bid.  
 

Bronmateriaal:
T. A. McMahon The Berean Call, Sunday, February 28, 2010
http://www.thebereancall.org/content/may-2010-q-and-a-3
By: Pastor Bill Randles

 

 

 

Die Gevare van die Internet Biblioteek

In die laaste dekade, het daar in die kuberruimte ‘n radikale toename van beskikbare bronmateriaal plaasgevind. Hierdie ontploffing van materiaal, wat baie goedkoop of heeltemal verniet aangebied word, is so oorweldigend dat die niksvermoedende en naïewe Christen, wat sonder onderskeiding daardeur soek, heel waarskynlik uitgevang sal word deur die vermenging van waarheid en valse leer. Sommige welmenende Christene sal nie die onmiddellike gevare raaksien nie en enige materiaal wat beskikbaar is gebruik as dit nie blatante leuens of onwaarhede verkondig nie.

So was ook my ervaring, toe ek in my soeke op Google na materiaal oor kerkgeskiedenis, afgekom het op ‘n blog-blad waarna ek gesoek het. Omdat die blad en materiaal aanvanklik onskuldig gelyk het, het ek sonder versuim begin lees. Na my gewete my egter herinner het aan vorige slegte ervarings, het ek begin om verder te kyk na die naam van die organisasie wat die blad publiseer op die web. Self hier het ek nie dadelik gevaarligte gewaar met ‘n “pop-up” venster wat sê: “Moenie hierdie webblad vertrou nie!” Dit het my gekos om na die bediening se naam en leerstellings te gaan kyk om werklik agter die kap van die byl te kom en te besef wie dit was dat hierdie artikel geskryf het.

So wat maak dit saak wie die artikel geskryf het? Wel, dink ‘n bietjie mooi! Sê nou maar die skrywers van die blog-blad is van die Ou Apostels of die Jehovas getuies of “The Church of Christ” en hulle wil iets skryf om hulle interpretasie van kerkgeskiedenis te bevorder. Ons moet eerstens besef dat hulle die webruimte gebruik om ander, wat die web gebruik, se siening van die Bybel of Christelike leer te beïnvloed. Hulle siening van kerkgeskiedenis en ander onderwerpe soos bv. die evangelie en eindtyd gebeure, word gevorm en ingelig deur hulle verkeerde interpretasie van die Bybel. Kom ons vat byvoorbeeld die webblad wat ek besoek het - The Lutz church of Christ is a non-denominational family of disciples endeavoring to live as New Testament Christians. Die naam en beskrywing klink mooi, maar uit my ondervinding het ek dadelik, uit die manier hoe hulle hulself beskryf, besef dat hierdie groep ‘n sektariese groep is. Hulle het ‘n subjektiewe siening van die Bybel, hulle preek ‘n ander evangelie van redding en dit sal ongetwyfeld hulle seining van kerkgeskiedenis beïnvloed. Maar uit hulle naam klink hulle soos normale dissipels van die Here Jesus, net soos ons. Om hulle siening egter te lees sonder om te weet dat dit uit ‘n sekere valse voorveronderstelling af kom, sal lei tot ‘n vermenging van die waarheid en valse leer in ons gedagtes. Hierdie vermenging kan lei tot ‘n diepliggende onsekerheid of die Bybel waar is en/of die evangelie werklik so belangrik is. ‘n Saadjie van twyfel, kan ‘n groot boom van onsekerheid en ongeloof word (...hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Jak. 1:6). Dit moet ons tog ten alle koste probeer vermy en nie hulle materiaal gebruik nie!

Daarom is daar ‘n hernieude oproep na Christene, soos die “edelmoediges” van Berea (Hand. 17:11), wat die inligting wat op die web en elders beskikbaar is, nie bloot vir soetkoek op te eet nie, maar dit meet aan die Woord van die God, wat ons enigste, onfeilbare maatstaf is, waaraan ons alles wat ons wil weet en leer moet meet (Judas 1:3). Al klink dit vir jou of dit, wat hulle van Jesus en van die Bybel sê, mooi en onskuldig is, maak liewer seker en vermy dit wat twyfel in jou hart kan saai.

Praktiese dinge om te onthou as jy die internet besoek:

·         Gaan eerstens na die Tuisblad of Home Page en lees met ‘n kritiese oog.
·         Soek na die blad waar hulle leerstelling is en lees met onderskeiding.
·         Besoek betroubare bronne, wat deur ander aanbeveel word.
·         Maak seker jy gebruik ‘n goeie verwysingsraamwerk.